NG Kerk Humansdorp - VSA Bediening

- a Bilingual Dutch Reformed Church presence in the USA  




                                                                                                                                                                                                               Augustus 2008

Beste vriende op Humansdorp,

 

Genade en vrede vir julle vanaf die weskus van Amerika.

 

Danksy julle gebede en belangstelling in ons bediening gaan dit sommer baie goed met ons. Die Here is goed !

 

Ek kan nie glo dat dit al Augustus is nie. Dit voel soos gister wat ons begin oppak het om oor die water te kom en daardie gister was Augustus 2007. Daar is vir my drie weke oor van CPE (Clinical Pastoral Education) en ek sal ‘n leuen vertel as ek sê ek is nie dankbaar daarvoor nie. Ek was nooit weermag toe nie, maar ek hoor altyd weermag-manne sê dat hulle weermag dae was die beste dae van hulle lewe, wat hulle nooit weer wil oorhê nie. Ek het hierdie sê-ding amptelik gesteel om my CPE ervaring te beskryf.

 

In retrospek kan ek sê dat op ‘n persoonlik vlak, het ek hard gewerk aan die bewuswording van wie en wat ek is te midde van die seer en lyding waarmee elke dag gewerk word. Ek ervaar ‘n  meer soliede pastoral identiteit in diens van die Here soos wat ek meer bewus raak van my eie broosheid en gekwesdheid. Op ‘n vaardigheidsvlak het CPE my gehelp met die veredere ontwikkeling van beradingstegnieke en ‘n beter verstaan van die sosiologiese en psigologiese dimensies van wie ons is. 

 

Dit is egter die honderde verhale en gesigte van pasiënte, familiede lede en vriende van pasiënte wat hierdie jaar vir my ‘n baie besonderse jaar in my lewe maak. Om mense elke dag, die hele dag, in hulle angstigheid en krisis by te kan staan, om families te kan ondersteun in die oomblike waar ‘n geliefde van ‘n aardse lewe oorbeweeg na ‘n ewige lewe is ‘n enorme voorreg en ‘n stuk genade. Ek voel bevoorreg om deur die Here geroep te wees hiervoor en die geleentheid te hê om hierdie roeping uit te kan leef.

 

Soos ek geskryf het in die Julie-brief, is ek uitgenooi om eersdaags te begin met opleiding wat my in staat gaan stel om self  hospitaal leraars deur die CPE proses te laat gaan en op te lei. Ek is baie opgewonde hieroor en sien uit na die nuwe uitdaging. As daar ‘n plekkie oop is op julle gebedslysie, bid asseblief hiervoor.

 

Met Rita gaan dit ook goed. Die werk wat sy doen, is wat dit is. Dink nie sy wil ‘n loopbaan daarvan maak nie, maar op hierdie stadium is dit ‘n wonderlike ekstra inkomste en ‘n stuk genade.

 

Dit blyk dat ek einde Augustus vir 10 dae Suid-Afrika toe gaan kom om die tandarts te kom sien. Ek het onlangs ‘n tand gebreuk en dit blyk na ‘n konsultasie, dat ek groot werk nodig het. My mediese fonds hier is maar net ‘n hospitaal plan en dek nie eers ‘n kwart van die kostes nie. Ek en Rita het besluit dat ek eerder SA toe gaan kom en my skoonpa die werk laat doen wat ‘n tandarts is. Dit is wonderlik hoe die Here werk, want dit is nou net my reiskostes en dit werk my die helfte uit van wat die werk my hier sou gekos het.

 

Ek hoop om julle dan te sien!!

 

Vrede

 

Wikus en Rita

 

_____________________________________________________________

                                                                                                    Julie 2008

Liewe Gemeente van Christus

Julie was weer 'n woelige en vol maand en my eerste hospitaal-jaar  is al amper verby. Take is verdeel, 'n ekstra "Chaplain Resident" is aangestel en ek het op A500, die Bloed en Murg kanker (Blood and marrow Transplant) vloer begin werk.

Hier word pasiënte vir 'n maksimum van 30 dae in dieselfde kamer gehou waarna hulle verskuif word na 'n nuwe kamer sodat die vertrek gewas en gesteriliseer kan word. Pasiënte kom nie sommer vir korter as 60 dae nie en ons het pasiente wat al vir hul tweede 240+ dae hier is. Ja en natuurlik dra ook die chaplain 'n oorpak, masker en handskoene wanneer daar besoek afgelê word. Wanneer die bloed of murg oorplanting nie 'vat' nie keer hulle weer terug en dus is daar letterlik die sulkes waarna verwys word as die "frequent flyers". Vir hulle word A500 'n tuiste, 'n lewe en 'n hawe!

Natuulik eis elke oorplanting en reeks chemo of bestraling van watter aard ook al sy tol en pasiënte is tipies moeër en swakker wanneer hulle vir addisioinele oorplantings kom. Die emosionele en geestelike ondersteuning waarna die meeste pasiënte en hul families smag is hoog. Huidiglik is die jongste BMT pasiëntjie 'n 1 jarige seuntjie en die oudste 'n 26 jarige vroutjie wat in 'n koma in die intensiewe sorg afdeling is.

Terwyl die hartseer gevalle 'n definitiewe indruk op 'n mens maak is daar ook die heerlike en luisterryke stories van wonderwerke en seëninge. Sommige kom vir voorkomende sorg, met ander woorde hul kry 'n oorplanting nog voordat hul enige simptome toon. Hiermee het die hospitaal baie groot sukses!  Ek ervaar ouers, pasiënte en personeel oor die algemeen ook meer geestelik afhanklik as sê maar die pasiente in die dag-hospitaal of day clinic. In 'n sekere sin maak dit my dag  voller en moeileker maar beslis ook meer vervullend. Ek en ons dank die Here elke dag vir die gawe van 'n BMT eenheid en Sy genadehand wat so sigbaar is!

Ons as gesin trek die einde Augustus na 'n groter huis to so 3 myl verder Suid van die hospitaal. Die grooter huis sal die kinders die geleentheid gun om vrylik in 'n omheinde erf te kan speel en is $135.00 goedkooper as die woonstel waarin ons tans woon. Ons sien dus uit na die skuif al beteken dit 'n gepakkery ens.

Dankie vir al julle getroue gebedsondersteuning en liefde. My volgende briefie sal vir julle 'n blik gee op die eerste Afrikaanse erediens wat ons hier hou teen die einde Augustus.

Groete in Hom

Rudolph en gesin

_________________________________________________________________

                                                                                                      Junie 2008

Beste vriende in Humansdorp,

Genade en vrede vir julle.

Die somer het in volle glorie opgedaag in Kalifornië. Ons weet nie
altyd hoe warm dit is nie, want hierdie kant van die water het mense mos
nog nie gehoor van grade celsius nie. Ons begin darem nou al gewoond
raak, dat dit warmer as 100 grade kan word, sonder dat die water in die
visdamme kook.

By die hospital gaan dit goed. Ons begin volgende week met die vierde
blok (Clinical pastoral education). Behalwe vir die emosionele
intensiteit van hopsitaal besoeke, verg die CPE-program ook ‘n pond
vleis wat studies en persoonlike onwikkeling betref. Dit is nogal ‘n
uitdaging om op sò intense vlak met lyding en seer te werk en dan nog
energie oor te hê om jou ervaringe en gevoelens met ‘n CPE supervisor
en mede-stdente te deel. Soms as ek huis toe stap dan moet ek vir myself
erken, dat daar in my binneste gekrap is soos selde van te vore. Die
resultaat hiervan is egter prysloos t.o.v. persoonlike bewuswording en
ontwikkeling.

Verlede week het ek en Rita goeie nuus ontvang vanaf die hospitaal. My
supervisor het my onverwags uitgenooi om, nadat ek die 4-eenhede CPE
voltooi het, te begin met “CPE supervisory training” by
Sequoia-hospitaal. Dit is ‘n intense studie en persoonlike
ontwikkelingsprogram, wat met die voltooiing daarvan, ‘n kandidaat die
geleentheid gee self pastorale studente op te lei. Ek en Rita is baie
opgewonde hieroor, maar nou is dit alweer ‘n klomp papierwerk en
visums. Hou ons asseblief in julle gebede.

By die huis gaan dit ook goed. Rita het begin werk by ‘n regsfima
waar sy vir hulle patente regestreer. Ons dank die Here vir die eksta
geldjie. Sy werk ongeveer 7km van ons woonstel af en maak gebruik van
die publieke busdiens. Ook hier in Kalifornië is die hoë petrol prys op
almal se lippe. Vanoggend sien ek dat ons nou $4,40 ‘n gallon betaal.
Rita se bus-ryery en my stappery spaar ons dus baie geld.

Ons het nou al heelwat Suid-Afrikanes hier ontmoet en volgende week kom
ongeveer 40 van ons bymekaar vir ‘n bring-en-braai in Golden Gate park
in San Fransisco. Dit sal vir ons ‘n ideale geleentheid wees om meer
inligting te kry oor wie ingeskakel is by gemeentes en Bybelstudie
groepe en wie nie is nie. Ons sien baie uit daarna.

Ek en Rita dank julle vir al die gebede en weet dat julle in ons gebede
ook is.

Vrede
Wikus en Rita Dippenaar

_______________________________________________________________

   

                                                                                                     Mei 2008

Liewe gemeente van ons Here Jesus Christus

Die wêreld hier is stadig aan besig om warmer te word. Die sneeu en koue maak plek vir vroeg oggend sonskyn, bloeisels en nuwe geure in die lug. Ek skuld julle al lankal ‘n geselsbriefie en het vanmore gedink ek moet probeer vertel oor my rol as hospitaal leraar in ‘n  groot trauma hospitaal.

Wel ons sit verlede week so en praat oor die volume pasiente en noodgevalle wat ‘n afname toon oor die laaste twee dae. Nie dat ons bygelowig is nie maar dis duidelik dat die 14 hospitaal leraars in die hospitaal nie graag sulke data probeer analiseer nie want...ons woorde was skaars geuiter toe skreeu die buzzers en pagers en die twee-dag rekord spat in flarde.  Vyf van ons word dadelik uitgeroep; die een ongevalle toe vir ‘n  motorongeluk, die ander is teater toe aangesien dit lyk asof ‘n  pasientjie dit nie gaan maak nie en nog een is op dak toe om die motorongeluk pasiënt wat met die helikopter inkom te ontmoet. Ek en ‘n  kollega is ontbied na ‘n  medies etiese konsultasie. Die mediese span wil ‘n  2 jarige seuntjie met erge breinbesering op ‘n hart-long masjien sit.  Die ouers wil geen verdere mediese ingrype hê nie, maar die mediese span wil ten alle koste die seuntjie aan die lewe hou.

...en toe tref dit my! “om aan die lewe te hou“ is nie dieselfde as “om ‘n lewe te red “ nie...of is dit?

Ek is so dankbaar dat ons Here Jesus gekom het om ons te red en nie net om ons aan die lewe te hou nie. Die Hoop wat ons as christene het is mos Jesus self! Ja ons hoop dat dit met ons land en ons mense en met die petrolprys en met my kinders, beter sal gaan maar ons uiteindelike hoop is Jesus self. Omdat Hy gekom het en kom dien het, het ek die lewe...nie die ‘aan die lewe gehou word’ nie...maar die lewe, die ewige lewe.

Op hierdie twee jarige seuntjie se liggaampie is daar al sewe keer geopereer, sy hart is al geskok om dit weer aan die klop te kry, hy is op al wat ‘n  drup en pyp is en hulle gaan hom vandag verloor as hulle hom nie op masjiene sit wat sy hart en sy asemhaling oorneem nie. Hoe lank kan ons die dood dan keer? Ek worstel met die vraag of die dood nie ‘n veel meer natuurliker gebeurlikheid is as wat ons wil toegee nie. Vir God se kinders maak dit mos sin dat die dood ‘OK’ kan wees! Nie goed nie, nie lekker nie, net maar ‘OK’ omdat ek my Here en Meester ken en weet dat Hy in beheer is. En toe wonder ek; ”Hoe moet my verhouding met Christus daaruitsien voordat die dood, miskien my kind se dood of my ma se dood vir my ook ‘OK’ sal wees?”

...en die antwoorde bly skaars en die pad wat ons loop se naam is 'worstel met die Here' omdat ʼn pa en 'n ma huil, beide oor die seer van hul seuntjie en oor hul eie seer! Hoe kan dit dan alles ‘OK’ wees Here?

So deur al die worstelinge sorg die Here darem ook vir die Vissers. Ek ‘n tydelike posisie aangebied as hospitaal leraar vir die Beenmurg-oorplanting eenheid waar ek ook gemoeid sal wees met navorsing en die bevordering van pastorale bronne op die eenheid. Die hoop is dat dit in ‘n vol en permanente pos sal ontwikkel so teen die einde van 2009.

Elize het begin skool hou by ‘n  kleuterskool. Annake en Liezl gaan dus elke oggend saam met ma skool toe en die opstaan in die oggende gaan al hoe beter.

Ek en Ds. Wikus is ook aan die werk met ‘n  web blad vir die Humansdorp-VSA bediening. Die web-blad is nog nie heeltemal klaar nie maar loer gerus solank daarna. Die web-skakel is: http://ngk-in-amerika.cfsites.org

Ons e-pos adresse is ook daarop so neem die vrymoedigheid en skryf enige tyd aan ons. Miskien het jy ‘n idée van iets wat ons op die web blad moet sit! Ons sal graag daarvan wil hoor.

Loer ook gereeld na die gebedsversoeke wat ons op die web plaas en bid asb. saam met ons. Weet dat ons ook vir julle bid en jul die rykste seën van ons lewegewende Here Jesus Christus vir jul toewens.

 

Groete in Hom

Rudolph