
VERSLAG VAN DIE GEMEENTEBEDIENING- EN ADMINISTRASIEKOMMISSIE VAN DIE NED GEREF GEMEENTE HUMANSDORP GEHOU IN DIE SYSAAL OP 6 JUNIE 2007 OM 18:00
Inleiding:
Tydens die Pinkster 2007 het ds Deon Oelofse kontak gemaak met ds Rudolph Visser van die NG Gemeente Fynnland in Durban. In die gesprek het sy roeping wat hy ontvang het om hospitaalpastoraat in Amerika te doen ter sprake gekom. Dit het gelei tot ‘n gesprek rondom sy status as leraar. In die gesprek is verder ook aandag gegee aan ds Wikus Dippenaar, van Melmoth, se roeping in dieselfde bediening. Die volgende sake het na vore gekom en het gelei tot ‘n gesprek met die Gemeentebediening en Administrasiekommissie op 29 Mei 2007.
Vertrekpunt:
Uit die Agenda van die Algemene Sinode 2007 blyk dit dat daar tans geen werk in die VSA doen onder NG Kerk lidmate nie. Hierdie is ‘n probleem vir die Kommissie vir Buitelandse Bediening van die Algemene Sinode. Uit ‘n gesprek met dr Kobus Gerber, Algemene Sekretaris van die Algemene Sinode, wil die NG Kerk graag skakelpersone daar stel om NG Kerk lidmate te help om of in te skakel by ‘n Afrikaanse bediening saam met die Christian Reformed Church (CRC) of America of ten minste lidmate te begelei om in te skakel by die CRC om pastorale versorging aan NG Kerk lidmate te verleen. Hierdie opsies, volgens die gesprek met dr Gerber, sal help om lidmate wat kerklos is of wat ‘n geestelike tuiste soek in die VSA om kerklik in te skakel by bestaande strukture. Geestelike werkers van die NG Kerk sou hierdie proses kon vergemaklik.
Beginselbesluit:
Die twee kommissies het ‘n ongenotuleerde beginsel besluit geneem om verdere navorsing en inligting in te win rondom die volhoubaarheid van ‘n bediening vir Suid-Afrikaners in die VSA. In die lig van die uitvoerbaarheid van die bediening is besluit om op Woensdag 6 Junie 2006 te vergader. By die vergadering sal die moontlikhede bespreek word:
· Om di. Visser en Dippenaar te beroep as Termynkontrakleraars met bepaalde op opdrag na die NG Gemeente Humansdorp.
· Dat die NG Gemeente Humansdorp verantwoordelikheid saam met die Ring van Humansdorp en die Algemene Sinode neem ten opsigte van ‘n bediening aan Suid-Afrikaners in die VSA met die samewerking van die CRC.
Bedieningsimplikasies:
Indien die Kerkraad van die NG Gemeente Humansdorp die voorstel van die Kommissies goedkeur het dit die volgende implikasies.
- Die gemeente sal twee addisionele leraarsposte skep op ‘n termynkontrak basis met bepaalde opdrag.
- Die twee leraars sal self hul salarisse voorsien deur aanvanklik as intern hospitaal kapelane te werk in twee hospitale in Redwood, California en Cincinnati, Ohio. Na ‘n jaar sal hul uitgeplaas word na permanente poste in die VSA.
- Die twee leraars tree as skakelpersone op namens die NG Kerk om lidmate te begelei om in te skakel met CRC gemeentes in die VSA. Die gedagte sal verder wees dat die twee leraars op ‘n gereelde basis Afrikaanse dienste sal aanbied in samewerking met die CRC in die VSA.
- Hierdie poste word geskrap indien die twee leraars terugkeer na Suid-Afrika en die band word met hul losgemaak waarna hul onmiddellik beroepbaar in die NG Kerk word.
- Die gemeente neem verantwoordelik vir lidmate wat in die VSA woon en wat nie wil skakel by ‘n plaaslike CRC gemeente nie. Indien die twee leraars terugkeer na Suid-Afrika sal ons gemeente poog om die lidmate daar in te skakel by ‘n plaaslike CRC gemeente
- Die Algemene Sinode en die Ring van die Humansdorp sal as medevennote inkoop in by die bediening.
- Aangesien die bediening op eie fondse loop sal die gemeente nie verantwoordelik wees vir salarisse nie. Die voorstel is egter dat die gemeente in die komende jaar ‘n bedrag begroot vir die aankoop van Afrikaanse Bybels en geestelike materiaal om beskikbaar te stel in die VSA. Bedieningsbeloftes of spesiale dankoffers is ook ‘n moontlikheid. Die bediening sal ook aansoek doen via Ringsprojekte vir fondse van die NG Kerk in Oos-Kaapland.
- Die bediening sal ons as gemeente blootstelling gee aan medegelowiges in die buiteland en dit ook moontlik maak dat ons nuwe materiaal en inligting vanuit die gereformeerde wêreld in die VSA sal kry. Die CRC is ‘n Gereformeerde kerk met ‘n sterk gereformeerde identiteit. Hulle sal ook ons buitelandse vennoot wees.
Indien ons as gemeente die bedieningsimplikasies verstaan sal dit wys wees om die twee persone te nooi om die kommissies/kerkraad te gesels en om ‘n werkooreenkoms goed te keur. Dit sal dan dien as kontrak waarvolgens die persone beroep word na die gemeente.
Voorstel:
- Die Kerkraad van die NG Gemeente Humansdorp beroep op ‘n spesiale vergadering di Rudolph Visser en Wikus Dippenaar as termynkontrak leraars vir tydperk van 12 maande met moontlike verlenging vir ‘n bepaalde opdrag: Bediening VSA.
- Die Kerkraad keur ‘n werkooreenkoms goed waarvolgens hulle kontrakte en arbeid in die werkkring duidelik gestipuleer word.
- Die Kerkraad neem verantwoordelik saam met die Kommissie vir Buitelandse Bediening van die Algemene Sinode om lidmate van die NG Kerk in die VSA ‘n geestelike tuiste te help vind by die CRC terwyl hul in die VSA werksaam is. Die gemeente se twee leraars sal verantwoordelik wees vir die geestelike arbeid in samewerking met die Christian Reformed Church of America.
|